# 1 Aangekom in Suid Korea

Welkom by my eerste post op die blog!

Na drie weke in die land kan ek uiteindelik rustig sit en my eerste post oor Korea plaas.

Oraait.  Ek het met ‘n bietjie van ‘n “bump” hier aangekom.  Sondagmiddag land ek in Seoel (Engels- Seoul, Afrikaans – Seoel).  Die vliegtuig het omtrent 30 minute geneem om deur die ysige wolklaag te kom, want dis WINTER in Suid Korea.  Wel, tegnies die hele noordelike halfrond maar kom ons bly by Korea.

Ek het gevlieg met ‘n kortbroek aangesien 16 uur op ‘n vliegtuig en 3 ure transito-tyd nie ‘n grap is vir enige iemand in ‘n denim nie.  Ons klim toe nou af en toe ons uit die vliegtuig in die ou tonneltjie tap kon ek voel dis nie aangenaam hier buite nie.

Ek glip toe by die eerste badkamer in om net gou my wintersklere aan te trek wat in my sak was – een van die skoene wat ek doer die tyd al by Markams gekoop het se veter breek toe nou in die badkamer.  Nice.  Ek gooi toe die simpel stukkie weg en steek toe nou sommer die oorblywende deel net hier langs die kant in.

Ek moes toe nou self by die hotel kom (wat oraait was aangesien ek bekend is met die motlreinstelsel in Taiwan).  Incheon lughawe is aan die westekant van die stad.  Die hele rit op die trein vanaf die lughawe tot by die stasie by die hotel was amper twee ure. Dis korrek mense – Seoul is een ENORME stad. Groter as Johannesburg? Wel, daar bly amper 10 miljoen mense in Seoel so maak jy die somme 🙂

Hier is toe nou sommer so vinnige fototjie wat ek op die trein neem.  Steeds met OR Tambo se “plastic wrap”.

Image

En hierdie was eendag op die moltrein in Seoel gedurende spitstyd:

Image

….hier is BAIE asems. ….en ek verwys nou nie spreekwoordelik na al die pragtige mense op die tein nie, ek verwys letterlik na die benoude, beknopte omstandighede.

Net nadat ons uit die lughawe is sien ek hier en daar sulke wit hopies. Kon nie dink wat dit is nie (in fact, as jy 29 ure laas geslaap het gee jy nie regtig verskriklik om wat dit is nie, jy wil net ‘n bed hê).  En ja, dis toe nou sneeu.

Ek kom toe nou by Gangnam stasie aan (jip, die area in die bekende liedjie van meneer Psy, “Gangnam Style”).  Dis een van die grootste stasies in Seoul.  Hier loop ek met my 30kg tas, dik jas en ENORME rugsak op soek na uitgang 5.  Ek kry dit nie want dis ‘n stamp en gestoot en gedruis en net waar jy kyk is daar Koreane en al die borde belowe ek dui al die uitgang aan behalwe 5.  Ek stap toe hoogs gefrustreerd na ‘n man se winkeltjie (en daar is duisende in die moltrein mall).  Ek wys toe na die eerste bordjie bo ons wat die uitgange aandui [ waarop almal staan BEHALWE 5 (!!!!!!!!!) ] en beduie toe vir hom ek is op soek na “5”.  Die man gee my toe net so kyk, rol sy hande in die lug, kyk my met so laaaang oog aan, mompel vinnig iets in Koreaans en praat verder met sy tjommie.  Jy hoef nie Koreaans (Hangul) OF Engles te verstaan om te weet hy het sopas vir my gesê:”jou m**r, ek praat nie Engles nie”.  Dis toe nou waar die sambreel in hierdie Boer oopgaan want ek was toe nou baie vriendelik en geduldig tot nou toe.  …nadat ek vir hom in Afrikaans gesê het hy moet in die bos gaan %$@, loop ek verder en ná omtrent 15 minute se gesukkel kry ek uitgang 5.

Lang storie kort – ek was glad nie beïndruk met die maatskappy vir wie ek kom werk het nie en hierdie sentiment het reeds begin nog voor ek die Republiek verlaat nie.  Om ‘n week se sooibrand op te som: ek het toe besluit om by hierdie skool aan te bly (waarheen ek geplaas is toe die opleiding verby was) want die opleiding by hoofkantoor in Seoel was net eenvoudig glad nie dieslefde as wat by hierdie skool van my aangaan nie.  Ek sal ook nooit enige iemand aanbeveel om ooit aansoek te doen vir werk by (maatskappy se naam) nie.  Nee, ek gaan nie sê wat die plek se naam is nie. …..maar, gelukkig is die director van my skool ‘n dierbare man en die omstandighede hier by die skool is nou aangenaam nadat ek my voete begin vind het.

Die dorpie waar ek bly is baie klein in vergelyking met die ander stede in Korea.  Ons naaste stad is Daegu (so 80km met die bus).  Hier is een cine, glad nie ‘n mall nie maar gelukkig ‘n pragtige rivier en miljuisende staproetes.  Ek moet sê die voordeel van min winkels is dat mens regtig geneig is om minder geld te wil spandeer.  Glo my ek het in Taipei gebly, ek weet waarvan ek praat.  So ja, klein dorpies hier het hulle voordele.

Skool & Huisvesting

Ek weet nie van ander skole nie maar ons bly bo ons skool.  Ek verbeel my ander Suid Afrikaners wie al in SK was het dieselfde aangemeld.  Baie van die buitelanders in hierdie dorpie bly ook direk bo hulle skole.  Ek moet sê dit maak alles BAIE makliker aangesien jy nie van publieke vervoer afhanklik is nie.  Sien, in Korea betaal die skool vir jou verblyf, so ongelukkig kan jy nie soos in Taiwan vir jou ‘n plek gaan soek tot jy iets kry waarvan jy hou nie. Hier moet jy vat wat jy kry.  Gelukkig, gelukkig, gelukkig is my kamer mooi!  Die heel belangrikste vir my was vensters.  In Taiwan was daar so baie plekke wat baie klein venstertjies gehad het EN nog diefwering voor gehad – dit het vir my soos ‘n tronk gevoel.  By hierdie skool (op hierdie punt wil ek myself gou in die rede val en noem dat ek sopas moes opstaan om my eerste Koreaans vlieg dood te slaan. Terwyl ek tik vlieg die ding hier voor my verby en ek kanselleer hom toe nou gou daar by die wasbak.) ….skuus ja so die verblyf by hierdie skool is fantasties, ek kan nie kla nie!

Een dingetjie wat my effens pla in die week is die feit dat hier redelik baie verkeer in die gang is soos almal wie hier bly op die houtvloere loop en hier tussen 7 en 8 in die oggend is die vroutjie wie die skool skoonmaak hier onder (in die skool) doenig. Dan kan ek haar nou hoor meubels rondskuif en verlede Donderdag-oggend hoor ek ‘n ge-klak-klak hier in die gang wat net ‘n (wel, hierdie is my eie gevolgtrekking) mop kon wees wat teen die houtrame kap soos sy die ding deur die gang sleep. Ek hou nou maar die kombers oor my kop getrek. Dis beter as om haar in my boxers te gaan konfronteer. …maar dit pla my minder in vergelyking met daardie jong paartjie wat langs my in Taiwan gebly het en videospeletjies gespeel het elke aand tot in die vroeë oggendure!

Die ander ding is dat hierdie ander onnies wat saam met bly almal 27 jaar oud is.  Ek is in my vroeë 30’s.  Ek WIL NIE meer hê iemand moet my 22:45 kom wakker klop (ja wakker, m.a.w. ek slaap toe al)  en vra of ek iets wil gaan drink nie!

Meeste van die tyd as hulle na my toe kom met hulle “still in your insecure twenties” voorstelle is my reaksie gewoonlik:

IMG_1515

Oraait oraait, ek gaan nou nie ‘n waslap wees en nooit iets saam met hulle doen nie.  Die insident wat ek nou beskryf het het gebeur toe ek net by die skool aangekom het en nog erg “jet lag” was aangesien ons maar gedurende die training ook min geslaap het.

Ek dink hierdie is solank genoeg info om almal aan die gang te kry.  Dis Sondagaand, dis laat en ek moet in die bed kom.  …maar eers gaan ek gou aandete geniet – dis korrek mense, in die ooste doen ons alles met noodles en stokkies 😉

Image