# 6 Die Selfoon/Simkaart Debakel

Hierdie is gelukkig net een keer se geveg dan is jy reg vir die volgende (hoe lank jy nou oookal hier gaan bly).

In Suid Afrika is ons uit ons sokkies bederf met ons selfoonnetwerke.  Hulle het dinge regtig vir Suid Afrikaners maklik gemaak om ‘n SIMkaart te koop en onmiddellik te begin speel, data ingesluit.  RICA het dinge effens moeiliker gemaak maar jy bring basies een bladsytjie saam na die Vodashop en jy is geholpe.

In Taiwan het dit soos volg gewerk.  Gedurende ons eerste twee weke by die hotel waar ons tuisgegaan het gedurende opleiding het al die wit gesiggies vanoor die water na die selfoonwinkel oorkant die straat gehardloop want daar kon jy net jou paspoort saamneem en onmiddellik ten minste ‘n voorafbetaalde simkaart koop.  As jy ‘n kontrak wou uitneem moes jy ‘n pasoort en ARC (Alien Residency Card) saambring. Ek hol toe een middag gou na die winkel, spring deur al die administratiewe hoepels en kry my simkaart, net om daardie aand by die hotel uit te vind maar die ding het nie internet op nie.  Die 3G op my iPhone was geaktiveer maar die foon wil niks weet nie.  Ek besluit toe nou om dit uit te sorteer as ek die dag by my tak kom.  Lang storie kort (gewoonlik as ek dít sê is dit klaar te laat), ek vind toe uit ek moes gevra het vir ‘n 3G simkaart, nie ‘n gewone een nie.  HOE MOES EK DIT WEET?! Elkgeval, dit beteken toe nou nuwe (3G) simkaart EN nuwe selfoonnommer.  Sien, in SA is die hele boksomdaais onmiddellik beskikbaar: oproepe, smse, data en alle ander denkbare dienste.  In die Ooste het jy 10 verskillende simkaarte, afhangend van wat jou behoeftes is.  Oraait, 2, nie 10 nie.  En ja, soos met alle voorafbetaalde simkaarte (SA ingesluit) was die tariewe baie duur in Taiwan.  Aangesien ek reeds ‘n selfoon gehad het het ek net geweier om ‘n duur kontrak aan te gaan.

Korea:  ek vra toe nou die dag een van die Koreaanse vroutjies wie saam met my werk om asseblief gou saam met my te gaan sodat ons kon gaan hoor of ons vir my ‘n voorafbetaalde simkaart kon kry vir my iPhone 5.  Kom by die winkel (dis ‘n SK Telecom, die Vodacom van Suid Korea) aan en sy verduidelik toe nou aan die man wat my situasie was.  Volgens al die Westerlinge hier is dit ‘n bekende feit dat jy veel makliker ‘n afspraak met die koningin van Engeland kan kry as wat dit is om ‘n voorafbetaalde simkaart te kry. Hulle wil almal aan jou ‘n splinternuwe Samsung foon afsmeer met ‘n selfoonkontrak wat jou tot R890 per maand kan kos.  Dis wat een van die Westerlinge hier betaal – en sy het maar 3 GB data en ‘n paar “gratis” minute en smse.  Ek weier om dit te mors op ‘n kontrak.  En die ander probleem is net, soos in Suid Afrika, hoe goedkoper die kontrak hoe minder kan jou selfoon doen.  Ja, ek kan ‘n goedkoper kontrak uitneem maar dit gaan vir my oor die beginsel dat ek ‘n foon het en dat daar wel voorafbetaalde simkaarte bestaan.

Lang storie kort, (sien, klaar te laat) die man klim toe nou daar op sy foon en bel iemand.  Soos wat hy praat vertaal die vroutjie vir my en daar is toe nou lyk my “moeilikheid” want die koekie aan die ander kant kan nie my foon se IMEI nommer op haar rekenaar opspoor nie :: dis die selfoon se unieke identifikasienommer.  Ek noem toe weer aan my tolk dat ek die foon in Taiwan gekoop het (splinternuut, uit die boks by een van die grootste Apple kettingwinkels in Taiwan, nie by ‘n sleazy agterstraat winkel nie) en dat die foon wel ontsluit (unlock) is m.a.w. enige denkbare simkaart van enige netwerk op aarde sal hy aanvaar.  Nope, no deal.  Hy sit net die foon neer en sê vir ons sy kan nie die nommer opspoor nie.  Wat het DIT nou met die prys van eiers uit te waai?  Verkoop julle iPhone 5 simkaarte? Ja.  Nou maar gee vir my een dan sit ek hom in die foon!! Die probleem is net dat jy p••p teen donderweer want jy kan nie vir die ou vrae vra en met hom argumenteer nie.  Nou stel hy voor ek gaan na ‘n groter stad, OOK na ‘n SK Telecom winkel, miskien kan hulle my help.  As JY dan nou vir my sê sy kan nie my nommer opspoor nie (wat ek steeds dink ‘n s••••t storie is), hoe gaan ‘n groter winkel in die stad my kan help? Hoe dom dink jy is ek!?  Oraait, skuus ek voel beter nadat ek nou daai bietjie info getik het.  Soos ek hierdie sleutelbord klap besef ek ek het nog nie heeltemal die ou se astrantheid verwerk nie.  Elkgeval, hierdie naweek foeter ek Daegu toe om te kyk of DAAR iemand is wat my wil help.

Sien, sulke ou kleeeeeeeeeeeeeein goedjies wat jou teen die muur uitdfryf!!! 😀 …en die ergste gevoel vir my is die magteloosheid dat jy nie met hierdie ou kan praat of kommunikeer agter die toonbank nie.  Jy is doodeenvoudig uitgelewer aan sy uitspraak, maak nie saak hoe ingelig of dom dit vir jou klink nie.

Die heel belangrikste les om hieruit te leer: MOENIE net in ‘n vreemde land aanvaar wat almal vir jou sê nie.  Moenie in ‘n drukgang ingestoot word teen jou sin en net aanvaar dat die enigste uitweg ‘n duur kontrak met ‘n onnodige foon is nie – tensy jy natuurlik ‘n nuwe foon wil hê.  As jy nie tevrede is nie, sê so en maak ‘n plan (wel, uit ordentlikheid om nie verder my kollega te steur nie moes ek self ‘n plan maak, maar dis nie ‘n probleem nie).  Doen navorsing en vind uit.  Ek het byvoorbeeld voordat ek hierdie laaste paragraaf getik het reeds die adres op Google Maps van ‘n winkel in Daegu gekry van die Olleh maatskappy.  Hulle sê hulle sal mens kan help en hulle praat Engels (vingers gekruis).

# 5 Suid Korea is ‘n Duur Landjie

Jy verdien nou wel ‘n baie goeie salaris in Korea, maar die uitdaging hier is om dit in jou bankrekening te hou.

Mense, Suid Korea is ‘n duur land.  Alles hier is duur.  Ek gee nie om wat jou kind vir jou sê op Skype nie, KOREA IS DUUR.  Tot die Amerikaners wie saam met my by die tak werk stem saam met my.  ….en hierdie woorde kom van iemand wat hier in Suid Korea in ‘n plattelandse dorpie woon.  Ek is nie in ‘n stad nie.

Kom ons begin by een van my gunsteling goed om op geld te spandeer :: cappuccino.  Nou kyk, ek is een van daardie mense wie nou nie omgegee het om R22 te betaal vir ‘n ordentlike, groot cappucciono by Starbucks in Taiwan en/of Seattle Coffee Co in Menlyn nie. Dis vir my lekker maar ek sal dit so eenkeer ‘n week doen, want dis duur.

Hier in Korea kos ‘n doodgewone cappuccino in ‘n (minder as ‘n 350 ml koppietjie – ek dink hy is omtrent die grootte van ‘n medium koffie by die Wimpy) jou R30.  Dis korrek & dis die gemiddelde prys.  Die goedkoopste wat ek nog gesien het is ₩2800 – dis R28.  Hierdie is die prys wat jy betaal by ‘n plek soos Paris Baguette (oulike kettinggroepie hier in SK wat allerhande gebakte goodies maak – alles natuurlik duur en ongesond, maar lekker).  Die ander bekende koffieplek in SK om by gesien te word is “Angel-in-us”.  Mense, hier is baie plekke met sulke name, ek vra nie meer vrae nie.  Elkgeval, jy kan vir jou daar PRESIES DIESELFDE CAPPUCCINO koop vir ₩4800 – dis R48 – VIR ‘N CAPPUCCINO van dieselfde grootte. En moenie dink teen daardie prys word dit gemaak met spesiale ingevoerde Sweedse bokmelk, varsgdrukte bone uit Kolombië wat vanoggend met die vliegtuig spesiaal daar aangekom het en gemmersprinkels uit die berge van China nie – dis ‘n plein, kômmen (Wimpy medium grootte) cappuccino.  Oraait, hy proe natuurlik absoluut fantasties, maar EERLIKWAAR niks beter as díe by Seattle Coffee Co in Menlyn nie.  Sien, in SK gaan dit ALLES oor image.  “Angel-in-us” is soos Porsche – jy betaal vir die naam en om daar(in) gesien te word.

Jy kan natuurlik effens goedkoper wegkom by Family Mart met ‘n cappuccino, maar jy gaan steeds hier by R20 se kant draai en glo my dit smaak nie so wonderlik nie.  Ek is nou maar ‘n koffie snob.  Die lewe is te kort om slegte koffie te drink.

(kliek op die fotos as jy hulle wil vergroot)

DSC_0092

Hierdie is die  R30 Paris Baguette cappuccino(tjietjie).  Ek het regtig nie die grootste hande op die planeet nie, dis werklik die koppie wat so klein is.

IMG_8603

Ek het vergeet om hierdie te noem: Sondagaand het ons gou by ‘n plek met die naam van “Uncle Tomato” – weereens, ek vra nie meer vrae nie – gaan pasta eet.  Hierdie was letterlik die goedkoopste bord pasta op die spyskaart.  Die gereg was relatief vullend maar kom ons sê ek kon byvoorbeeld nog ‘n hele steak  geëet het ná hierdie bordjie pasta.  Hy was R85.

IMG_8590

Ek wil eintlik nie hieroor praat nie.  Die eerste Maandag nadat ons by die tak aangekom het was dit die hele week “Lunar New Year” in die Ooste.  Ons ry toe af na ‘n dorp in die suide om aansoek te doen vir ons ARC kaarte (later meer daaroor) en na ‘n lang dag sê ons vir die eienaar van ons skool (ons het saam met hom gery) dat ons SMAG na ‘n koppie koffie.  Mense, ‘n doodgewone McDonalds sou ook gewerk het.  Ek wou net ‘n skoot kaffeïen in my sisteem kry.  Ons stop toe by so ÜBER CHIC teehuis langs die pad op ‘n bult wat uitkyk op ‘n meer.  Regtig baie mooi.  Jy ruik die fancy uit die parkeerarea en ons wou toe nou nie vir ons baas sê hy het by té duur plek gestop nie. Ons bestel toe ‘n gewone koppie koffie.  Die tannietjie bring nie eers melk nie.  Soos julle kan sien in die foto is alles toe nou baie posh, maar díe ou koppie koffietjie, soos julle hom daar op die foto sien, kos my toe R60.  Ek kon voel hoe stoot daai koffie in my keel op toe ek die rekening sien.

IMG_8321

Hierdie was nou die aand.  Oraait, ek WEET die goue reël is dat jy WEGBLY uit kitsplekkies wat jou 11 uur in die aand kan help, soos ‘n Shell Select winkel.  Hierdie was toe nou by Family Mart.  Sneesdoekies, Hot Chocolate (ek weet hierdie is bietjie bederf maar hulle was maar R6 elk), 1 liter melk, aansteker (dis om hakies met so snaakse gom te smelt om aan die kaste vas te sit in die woonstel, dis NIE vir rook nie!) en toe nou daardie twee pastatjies.  Die partytjie kos toe R89.

IMG_8577

Kruideniersware is ook duur.  ‘n 480 gram boks Special K kos so R70 (ek dink dis duurder as in SA), viennas (dan is daar regtig nie meer as 20 in nie) kos amper R80. ‘n 2 Liter melk kos by hierdie een supermark R48 (in Taiwan was dit R60 ‘n jaar gelede).  Ek het ook glad nie botter of margarine daar gesien nie.  Dis dieslfde ou suiwel probleem wat Taiwan ook maar het.  O ja hierdie is die beste :: by dieselfde supermark is daar drie pragtige groot lemoene te koop – teen R70.  Ek weet nie of dit ingevoer is van Hawaii nie, maar ek het dit met my eie oë gesien en nodeloos om te sê glad nie gekoop nie.

Ek het gister gou gaan inkopies doen vir die week ::

1) die boks Special K

2) 2 liter melk

3) 1 liter lemoensap

4) 2 houertjies kitspasta,

5) ‘n kilogram sout

6) houertjie met 10 piesangs

7) ‘n houertjie met 6 klein yoghurtjies

8) blikikie sardientjies

Die totaal was R270. Ek dink in SA sou ek ten minste onder R200 gedraai het.  Die probleem wat ek het – in Taiwan was dit ‘n feit dat dit goedkoper was om jou kruideniersware te koop en vir jouself kos te maak.  Nie noodwendig hier in Suid Korea nie.  Ek wil nog gaan kyk hoeveel hoendereiers ook kos, sal laat weet.  Sien, ek is nie groot op kosmaak nie, so vir my is dit makliker om kos te koop wat reeds voorberei is.  In Taiwan se Family Mart en 7-Eleven’s was die rakke vol daarvan en ongelukkig is dit nie die geval in Suid Korea nie – hierdie Family Mart om die draai het elke keer net een kitskos dingetjie op die rak en soos ek hom gekyk het nou die dag gaan hy jou vanaand rondjaag want ek het nie ‘n idee wat daar binne aangaan nie!

So ja, om nou nie veel verder onnodig te brabbel oor die saak nie :: die lewe hier is duur.  Ek praat nou van goodies wat jy moet koop vir elke dag se oorleef, nie lekkernye en bederf nie.  As jy net ‘n jaar hier gaan bly gaan jy regtig moet moeite doen om geld te spaar.  Die enigste werklike manier om in Suid Korea GOED geld te maak en te spaar is as jy langer as twee jaar hier bly.

# 4 Engels Gee In Suid Korea (of enige vreemde land) Is Lekker, Maar Nie Vir Sissies Nie

Ek gaan eerlik wees :: voordat ek Taiwan toe gegaan het, het ek gedink Engels gee is ‘n relatiewe maklike manier om geld te maak.  Dis toe nou nie heeltemal die waarheid nie.  In terme van werklading en die vlak van Engels hang dit af van die maatskappy/instansie waarheen jy geplaas word.  Ek het dit reggekry om in Taiwan by die grootste privaatskoolgroep op die eiland werk te kry asook hier in Korea.  Hoe groter jou skool se opset hoe meer struktuur, lesse, boeke, klasse, kinders en administratiewe verantwoordelikhede het jy.

[‘n Vinnige stukkie ekstra inligting: privaatskole in Suid Korea & Taiwan & Japan is BESIGHEDE.  Hulle is hier om Engels te gee maar hulle is ook hier om geld te maak.  Dis hoekom die kompetisie in Taiwan spesifiek so erg is tussen die skole. ‘n Leerling wat wegloop is nie net ‘n ou sieletjie wie nie gaan Engels praat nie, dis ook ‘n inkomste vir jou besigheid wat verdwyn – en dis dít wat privaatskole die meeste ontstel.  En glo my dis nogal duur om jou kind hierheen te stuur.  Ek weet nog nie hoeveel die ouers betaal om hulle kinders na ons skool te stuur nie, maar in Taiwan was dit nogal baie geld, veral as jy dit omsit na Rand].

Jammer, terug na my oorspronklike gedagte: Sien, vir een of ander rede het nog NIEMAND wat hier in die Ooste was regtig vir enige iemand in SA die waarheid vertel oor wat die werk vereis nie. Tensy daar êrens ‘n ander Afrikaanse blog oor Suid Korea (of enige ander land) is waarvan ek nie weet nie wat dit vertel, want jy sien altyd net die fotos van die mense op uitstappies, by al die Suid Afrikaanse feeste wat gereël word en hoe hulle poseer saam met hulle kinders.  Lekker man, lekker.  Nee, toe nou nie heeltemal nie. Kom ek deel gou met julle ‘n ordentlike dosis werklikheid.

Ek het al van hoeveel mense gehoor wat nie eers drie dae hier of in Taiwan was nie toe maak hulle (wat ons almal hier in die Ooste noem) ‘n Midnight Run.  Hulle pak letterlik hulle lappe en verdwyn oornag soos ‘n sleg oes(persoon).  Oraait, op hierdie punt wil ek graag noem dat daar sommige mense is wie NIE sielkundig of emosioneel hiervoor voorbereid is nie en glo dit of nie, so sarkasties soos daardie vorige sinnetjie klink het ek 100% empatie en simpatie met sulke mense.  Mense, dis regtig nie ‘n grap om alleen in ‘n vreemde land aan te kom, 12 000 km weg van die huis af (as jy tegnies wil raak, soos die kraai vlieg is ek op die oomblik 12 465 km van Pretoria Oos af) en dinge loop sielkundig vir jou skeef nie.  Jy voel vasgedruk en meeste mense doen die heel eerste beste ding wat in hulle koppe inpop – jy deporteer jouself.  Ek verstaan hoekom mense dit doen.

Die Ooste is nie Engeland of Australia of Amerika waar jy ORAL geholpe sal raak in Engels nie.  In die Ooste, veral in Korea, praat BAIE MIN MENSE ENGELS.  Klink vir my dis maar in die afgelope 4 jaar wat Korea begin “Engels vriendelik” raak het deur Engelse borde aan te bring in die busse en moltreine en op die paaie.  Ek sê altyd vir mense (en nie almal gaan saam met my stem nie, maar dis jou reg) dat as jy in Engeland is, is jy nie in ‘n foreign country nie.  As jy by ‘n supermark of restaurant instap en jy kan ALLES in Engels lees en ALMAL kan met jou Engels praat, is jy, as Suid Afrikaner, tegnies nie in ‘n foreign country nie.  Ja, jy is inderdaad weg van jou familie, mense en kultuur, maar ‘n baie groot deel van wat jy gehad het in Suid Afrika in terme van kultuur en taal wag vir jou in Engeland en/of enige ander van die 7 Engelssprekende lande. Hoewel jy weg is van jou land en mense is daar steeds baie elemente wat aan jou bekend is daardie kant.  Hier in die Ooste kan letterlik ‘n handjievol mense met jou kommunikeer, en nie altyd so wonderlik nie.  Die mense by jou skool ja, want hulle kan Engels praat en hulle gee Engels.  Maar Jan Publiek kan jy vergeet.  As jy by ‘n poskantoor of supermark of restaurant instap en ALLES is in Chinees of Koreaans geskryf en NIEMAND kan met jou Engles praat nie, DAN is jy in ‘n foreign country.  Die heel beste, veral aan die begin, is om met soveel moontlik Westerlinge hier bevriend te raak want hulle weet al wat aangaan en hulle help jou baie vinnig om aan te pas.  Ten spyte hiervan het ek in Taiwan gevind dat jy steeds deur al die fases van kultuurskok gaan.  …maar ‘n wit gesig met wie jy Engels/Afrikaans kan praat maak dit regtig net meer draaglik 🙂

So ja, as jy hoor iemand het drie dae in die Ooste gehou en teruggekom (tensy hulle iets gesteel het), be gentle 😉

Om terug te kom by die Engels gee:  ek sal sê die grootste uitdaging bly die kinders.  Hier waar ek is het ek die hele lot, van 8-jariges tot 16-jariges.  Die vêrste ente van die spektrum is altyd die ergste – die jonger kinders maak jou mal en die 15- en 16-jariges is in daai fase waar hulle óf te cool (gebruik mense nog daardie woord?) is om met jou te praat óf hulle is te skaam want hulle is bekommerd oor wat die ander van hulle gaan dink.  Grootword is darem maar simpel!

Die jonger kinders verg KONSTANTE classroom management – moenie dink jy sit op jou stoel by die lessenaar en sê vir hulle “bladsy 7, lees en doen” en daar is 50 minute verby nie.  Jy loop konstant op en af en gaan boeke na, maak seker almal HET hulle boeke (aan die begin van die klas) want dan moet jy masjien toe gaan en kopieë gaan maak (wat net NOG klastyd steel).  Dan wil hierdie een vir jou sy Spongebob pen wys, hierdie een wil met jou armdruk, hierdie een vertel jou hoe baie hare jy op jou arm het en die volgende een lê en slaap. Sy maatjie klap die een wat langs hom sit terwyl díe probeer om jou aandag te trek want hy/sy wil badkamer toe gaan.  Jy is emosioneel uitgeput ná so klas en my keel was Donderdag regtig seer aan die einde van die dag soos wat ek my stem moes verhef om almal se aandag te kry en orde te skep.  Ek weet dit klink na absolute anarchie maar daar IS orde, glo dit of nie.  Ten minste kom ons deur ons werk, maar jy is moeg!!!

En moenie vergeet nie: as jy kindertuin gaan doen gaan jy sit met kindertjies se snotnesies en hulle gaan opgooi (ja ja, nou nie elke dag nie).  Afhangend van jou skool gaan jy dit nie hoef skoon te maak nie, maar daardie grafiese beskrywings gaan jy self op een of ander stadium teëkom en jy gaan ten to one gereeld siek wees want daar gaan gedurig IEMAND met ‘n verkoue of ‘n kiem wees.  Vra my, ek was meeste van die tyd in Taiwan snufferig omdat ek vir 3 ure elke dag met 22 kindertjies in ‘n klaskamer gesit het.  Daar is lugversorging in die klas maar dit help niks – dit hou jou net koel in die somer.  Ek het eenkeer gelees dat as iemand hoes/nies hang daardie kieme vir iets soos 30 min nog in die kamer rond.  Donderdag het daar drie kinders in my een klas ( hulle is seker so 14 jaar oud) lekker gesit en hoes.  En die ander ding waaraan jy moet gewoond raak is dat hierdie mense sit nie hulle hande voor hulle monde as hulle hoes of nies nie (ek het al gesien van hulle keer daai nies so op 99 net vir ingeval iets grillerig uitkom maar daardie goggas is klaar in die lug). Ek het naderhand AGTER in die klas naby die twee oop vensters gaan staan en klasgee net om nie reg voor daardie drie se gehoes te staan nie.  Ek het toe nou hoeka gisteroggend met ‘n bietjie van ‘n seerkeel wakker geword en vanoggend kon ek voel ietsie is aan die broei, maar ek pomp myself nou vol vitamien C en ek het vanoggend begin antibiotika sluk vir die wis en die onwis – weereens, dit pla my nie.  Ek is gewoond daaraan, maar dis lastig en weet net dat dit is wat in ‘n klaskamer aangaan.

Hierdie is wat mens gewoonlik op websites en blogs sien:

vietnam_english_class-620x380 Grattan-Institute-Report-World’s-Education-Center-Is-Now-East-Asia YoungChineseStudents

Die realiteit is:

hagwon-class 9e0f538a213cb772b4d7b71ee2aa69d4 korean-students

Ten miste twee keer ‘n week is daar net een of selfs twee kinders wie jou SO gek maak jy wens jy kan dít met hulle doen::

giphy

En hierdie is EK op ‘n Vrydagaand:

IMG_6682

(al hierdie fotos het ek geGoogle, nie een van hulle is deur my geneem nie – bronne dus onbekend want ek het gespoed deur Google se Images vanoggend)

Die tieners is nou weer ‘n ander storie – hulle praat NIKS! Dis letterlik tandetrek vir 50 minute – stadig en pynlik.  Ek moet sê ek verkies eerder te veel energie wat jy moet afbring as ‘n lam perd wat jy moet slaan in die hoop dat hy gaan opstaan.  Dis moeilik.

So, AS JY NIE VAN KINDERS HOU NIE, MOENIE KOREA óf TAIWAN óf JAPAN óf  ENIGE ANDER LAND TOE GAAN NIE.  SO LEKKER SOOS WAT ALMAL JOU WIL LAAT DINK DIT IS (STORIES DAT JY GELD GAAN SPAAR, SOOS ‘N KONING HIER LEWE EN VIR JOU iPADS EN ALLERHANDE GOEDKOOP ELEKTRONIESE GOODIES KOOP), MOET JY NOGSTEEDS DIE GROOTSTE DEEL VAN DIE WEEK IN ‘N KLASKAMER SPANDEER OM DAARDIE GELD TE VERDIEN!  ….DAARDIE GELD VAL NIE IN JOU SKOOT NIE, JY WERK DAARVOOR. AS JY NIE HOU VAN HAMBURGERS NIE, BLY WEG VAN MCDONALDS AF :: AS JY NIE MET KINDERS KAN/WIL WERK NIE, MOET NêRENS GAAN ENGLES GEE TENSY DIT VIR VOLWASSENES IS NIE.

Verstaan my mooi, hier is al duisende Suid Afrikaners hier deur en jy hoor net van die suksesverhale maar nie van díe wie dit nie gemaak het nie – ek aanvaar daar is net so baie van hulle.  Ek raai niemand af om hierheen te kom nie, maar onthou net jy kom primêr hieheen om te WERK.  En ou matie, moenie dink dis ‘n breeze nie, oraait?  Engels gee is ‘n uitdaging (wat makliker raak soos die tyd aanstap) maar dit bly ‘n uitdaging en die kinders maak jou moeg.  Die vlak van Engels is dalk nie moeilik nie (alhoewel ek my nou in klasse vasgeloop het waar ek op ‘n Samsung tablet klasgee en die Engles is eerstetaal universiteitsvlak). Die meeste is gelukkig suksesverhale en baie mense bly langer as een jaar (ek ly af die gemiddelde SA’er bly so twee jaar hier in Korea)

Dis die ander ding :: as jy hoor iemand gee Engels oorsee – ONS WERK ONS STERTE AF.  Moenie dink ons lê die hele tyd op die strand met ‘n bier nie – alhoewel dit klink my daar IS mense in Thailand wie so skoolhou 😀 ).  Oraait, ek het al gehoor van mense wie se werk baie maklik is, veral hier in Korea – soos ek nou met Suid Afikaners hier praat klink dit my hier is van hulle wie letterlik net in die klas instap, geen opleiding ontvang nie en net ‘n teksboek gegee word.  Sounds nice.  Alhoewel dit eintlik moeiliker is – dis beter en hê ‘n skool wie jou begrawe onder hulle teksboeke, sillabus en materiaal en vir jou sê wat jy moet doen as wat dit is om met jou vinger in jou oor voor die klas te staan en nie te weet wat om te doen nie.

Mense, dis lekker om hier te wees.  Dis ‘n uitdaging, jy leer selfstandig wees en (uiteindelik) hoe om met geld te werk.  Sommige mense kom hierheen (gewoonlik nog die jongeres wie nounet klaar geswot het) om geld te maak en te spandeer en iets saam te vat huistoe, ander (soos ek) is hier om soveel moontlik geld te spaar.  Watookal jou redes, daar is niks mee fout nie – dis nie ‘n probleem as jy hierheen kom NET om jouself te geniet nie, dis goed.  Die belangrikste boodskap van my post is – of jy nou kom om jouself te geniet en of jy nou kom om geld te spaar, JY GAAN MOET WERK VIR DAAI GELD.

Eish nou ja, noudat ek DIT alles uit my sisteem het sal later meer in detail vertel oor die klasse, studente en skoolgee 😉

# 3 Twee opinies oor Kim Jong-un van Noord Korea

Nog een laaste ding oor politiek:  Baie mense in Suid Afrika en die res van die wêreld sien die Noorde as ‘n enorme gevaar en voordat ek hierheern gekom het het ek met 4 mense kontak gehad wie sê hulle is bekommerd oor hulle kinders/familie in Suid Korea a.g.v. die Noorde se vlerke klap elke 7 maande.  Een ouer het sy dogter verlede jaar beveel om terug te kom nadat dinge redelik gespanne was met die Noorde.

Die realiteit, nadat ek nou al self ‘n rukkie hier was, is die volgende:

1) Hoe die wêreld vir Kim Jong-un sien:

kim_2701423b N. Korean leader inspects artillery firing drill

2) Hoe amper elke Suid Koreaan vir Kim Jong-un sien:

giphy

Almal hier dink hy is ‘n absolute grap en neem hom glad nie ernstig op nie, suiwer a.g.v. die feit dat almal hier dieper insig het oor die politieke realiteit en die kultuur waarin Kim homself bevind.

Hy laat my dink aan Julius Malema – arrogant, probeer konstant ‘n punt maak met sweeping statements sonder enige inhoud wat nooit gaan realiseer nie, oorgewig, arrogant, onseker van hulself en almal rondom hulle stop hulle finansieël in en lag vir hulle dom grappe om hulle guns te wen.  En het ek genoem arrogant?

kim122way-b498fda00cd3d7f6b572743dc45202c69cf3947f-s6-c30Julius-Malema1

# 2 Internetsensuur in Suid Korea

Ek het nie beplan om hierdie NOU al in te gooi as my tweede post nie, maar ek wou gou iets hieroor skryf.

Suid Korea, volgens ‘n hele paar webblaaie op die internet, is maar net so skuldig in terme van die mate van internetvryheid wat sy burgers geniet.  Nie so erg soos hulle bure in Noord Korea nie, maar genoeg om wêreldwyd wenkbroue te laat lig.  Freedom House in Washington het verklaar dat Suid Korea “gedeeltelike” internetvryheid geniet en is op dieselfde vlak as lande soos Nigeria, Brazil, Angola and Uganda.

Lank en die kort: webblaaie wat geblok word:

1)  alle regeringswebblaaie van die Noord Koreaanse regering (ek het hieroor gelees en toe self Sondag gaan Google: “North Korea website”.  By die eerste resultaat staan daar “Democratic People’s Republic of Korea” (met die webadres wat ek nie hier wil tik nie want netnou blok hulle MY blog).  As jy daarop kliek, verskyn die volgende waarskuwing (screenshot vanaf my rekenaar, kliek daarop om te vergroot):

1

Hierdie boodskap is nie om te sê jy moet asseblief bly waar jy is, ons stuur die polisie nie (ek sit immers nog hier en nie by ‘n polisiestasie nie).  Dis net ‘n waarskuwing wat sê dat jy nie toegang het tot hierdie webblad nie, die regering van Suid Korea het dit geblok.  Sekere van die telefoonnommers onderaan is nommers wat jy glo kan kontak as jy enige spioene of “questionable” aktiwiteite wat bedryf word deur individue (wat lyk of dit die veiligheid van die land in gevaar stel) wil rapporteer. Dis nou regtig nie so erg soos die Stasi in Oos-Duitsland waar almal hulle bure verklik het nie (glo my die Suid Koreane het regtig beter dinge om te doen met hulle tyd), maar dis ‘n “net vir die wis en die onwis”.

2)  webblaaie in Suid Korea wat simpatiek is teenoor Noord Korea

3)  webblaaie en blogs (meestal die binne-in Suid Korea) wat die Suid Koreaanse regering kritiseer (hierdie is die sensitiefste aangesien dit nou begin lol met demokrasie, vryheid van spraak ensovoorts).  ‘n Ruk gelede was daar sprake dat die nasionale spioenasie-agentskap van Suid Korea van daardie blogs infiltreer het en opinies oor die regering gaan verander het so skuins voor die verkiesing – so rapporteer Freedom House. En laastens……

4)  pornografie (ek het nog nie hierdie een getoets nie, gaan ook eerder nie – daar is nie ‘n manier hoe ek aan die polisie kan verduidelik ek het “daardie” webblad besoek in die naam van navorsing nie! 😀 ….ander webblaaie sluit in die met videospeletjies wat té geweldadig is en/of kru taal gebruik.

Vir een of ander rede is Microsoft se soekenjin, Bing (by http://www.bing.com)  hier in Suid Korea van so aard dat as jy na settings toe gaan en versoek om geen filter op jou soektog te hê nie (m.a.w. jy kies OFF by die filter) verander dit net eenvoudig outomaties elke keer terug na STRICT.  Jy kan steeds die filter stel na OFF by Yahoo – hierdie het ek ook gaan toets ná ‘n artikel op die internet 🙂

Gaan lees meer hieroor by:

http://en.wikipedia.org/wiki/Internet_censorship_in_South_Korea

# 1 Aangekom in Suid Korea

Welkom by my eerste post op die blog!

Na drie weke in die land kan ek uiteindelik rustig sit en my eerste post oor Korea plaas.

Oraait.  Ek het met ‘n bietjie van ‘n “bump” hier aangekom.  Sondagmiddag land ek in Seoel (Engels- Seoul, Afrikaans – Seoel).  Die vliegtuig het omtrent 30 minute geneem om deur die ysige wolklaag te kom, want dis WINTER in Suid Korea.  Wel, tegnies die hele noordelike halfrond maar kom ons bly by Korea.

Ek het gevlieg met ‘n kortbroek aangesien 16 uur op ‘n vliegtuig en 3 ure transito-tyd nie ‘n grap is vir enige iemand in ‘n denim nie.  Ons klim toe nou af en toe ons uit die vliegtuig in die ou tonneltjie tap kon ek voel dis nie aangenaam hier buite nie.

Ek glip toe by die eerste badkamer in om net gou my wintersklere aan te trek wat in my sak was – een van die skoene wat ek doer die tyd al by Markams gekoop het se veter breek toe nou in die badkamer.  Nice.  Ek gooi toe die simpel stukkie weg en steek toe nou sommer die oorblywende deel net hier langs die kant in.

Ek moes toe nou self by die hotel kom (wat oraait was aangesien ek bekend is met die motlreinstelsel in Taiwan).  Incheon lughawe is aan die westekant van die stad.  Die hele rit op die trein vanaf die lughawe tot by die stasie by die hotel was amper twee ure. Dis korrek mense – Seoul is een ENORME stad. Groter as Johannesburg? Wel, daar bly amper 10 miljoen mense in Seoel so maak jy die somme 🙂

Hier is toe nou sommer so vinnige fototjie wat ek op die trein neem.  Steeds met OR Tambo se “plastic wrap”.

Image

En hierdie was eendag op die moltrein in Seoel gedurende spitstyd:

Image

….hier is BAIE asems. ….en ek verwys nou nie spreekwoordelik na al die pragtige mense op die tein nie, ek verwys letterlik na die benoude, beknopte omstandighede.

Net nadat ons uit die lughawe is sien ek hier en daar sulke wit hopies. Kon nie dink wat dit is nie (in fact, as jy 29 ure laas geslaap het gee jy nie regtig verskriklik om wat dit is nie, jy wil net ‘n bed hê).  En ja, dis toe nou sneeu.

Ek kom toe nou by Gangnam stasie aan (jip, die area in die bekende liedjie van meneer Psy, “Gangnam Style”).  Dis een van die grootste stasies in Seoul.  Hier loop ek met my 30kg tas, dik jas en ENORME rugsak op soek na uitgang 5.  Ek kry dit nie want dis ‘n stamp en gestoot en gedruis en net waar jy kyk is daar Koreane en al die borde belowe ek dui al die uitgang aan behalwe 5.  Ek stap toe hoogs gefrustreerd na ‘n man se winkeltjie (en daar is duisende in die moltrein mall).  Ek wys toe na die eerste bordjie bo ons wat die uitgange aandui [ waarop almal staan BEHALWE 5 (!!!!!!!!!) ] en beduie toe vir hom ek is op soek na “5”.  Die man gee my toe net so kyk, rol sy hande in die lug, kyk my met so laaaang oog aan, mompel vinnig iets in Koreaans en praat verder met sy tjommie.  Jy hoef nie Koreaans (Hangul) OF Engles te verstaan om te weet hy het sopas vir my gesê:”jou m**r, ek praat nie Engles nie”.  Dis toe nou waar die sambreel in hierdie Boer oopgaan want ek was toe nou baie vriendelik en geduldig tot nou toe.  …nadat ek vir hom in Afrikaans gesê het hy moet in die bos gaan %$@, loop ek verder en ná omtrent 15 minute se gesukkel kry ek uitgang 5.

Lang storie kort – ek was glad nie beïndruk met die maatskappy vir wie ek kom werk het nie en hierdie sentiment het reeds begin nog voor ek die Republiek verlaat nie.  Om ‘n week se sooibrand op te som: ek het toe besluit om by hierdie skool aan te bly (waarheen ek geplaas is toe die opleiding verby was) want die opleiding by hoofkantoor in Seoel was net eenvoudig glad nie dieslefde as wat by hierdie skool van my aangaan nie.  Ek sal ook nooit enige iemand aanbeveel om ooit aansoek te doen vir werk by (maatskappy se naam) nie.  Nee, ek gaan nie sê wat die plek se naam is nie. …..maar, gelukkig is die director van my skool ‘n dierbare man en die omstandighede hier by die skool is nou aangenaam nadat ek my voete begin vind het.

Die dorpie waar ek bly is baie klein in vergelyking met die ander stede in Korea.  Ons naaste stad is Daegu (so 80km met die bus).  Hier is een cine, glad nie ‘n mall nie maar gelukkig ‘n pragtige rivier en miljuisende staproetes.  Ek moet sê die voordeel van min winkels is dat mens regtig geneig is om minder geld te wil spandeer.  Glo my ek het in Taipei gebly, ek weet waarvan ek praat.  So ja, klein dorpies hier het hulle voordele.

Skool & Huisvesting

Ek weet nie van ander skole nie maar ons bly bo ons skool.  Ek verbeel my ander Suid Afrikaners wie al in SK was het dieselfde aangemeld.  Baie van die buitelanders in hierdie dorpie bly ook direk bo hulle skole.  Ek moet sê dit maak alles BAIE makliker aangesien jy nie van publieke vervoer afhanklik is nie.  Sien, in Korea betaal die skool vir jou verblyf, so ongelukkig kan jy nie soos in Taiwan vir jou ‘n plek gaan soek tot jy iets kry waarvan jy hou nie. Hier moet jy vat wat jy kry.  Gelukkig, gelukkig, gelukkig is my kamer mooi!  Die heel belangrikste vir my was vensters.  In Taiwan was daar so baie plekke wat baie klein venstertjies gehad het EN nog diefwering voor gehad – dit het vir my soos ‘n tronk gevoel.  By hierdie skool (op hierdie punt wil ek myself gou in die rede val en noem dat ek sopas moes opstaan om my eerste Koreaans vlieg dood te slaan. Terwyl ek tik vlieg die ding hier voor my verby en ek kanselleer hom toe nou gou daar by die wasbak.) ….skuus ja so die verblyf by hierdie skool is fantasties, ek kan nie kla nie!

Een dingetjie wat my effens pla in die week is die feit dat hier redelik baie verkeer in die gang is soos almal wie hier bly op die houtvloere loop en hier tussen 7 en 8 in die oggend is die vroutjie wie die skool skoonmaak hier onder (in die skool) doenig. Dan kan ek haar nou hoor meubels rondskuif en verlede Donderdag-oggend hoor ek ‘n ge-klak-klak hier in die gang wat net ‘n (wel, hierdie is my eie gevolgtrekking) mop kon wees wat teen die houtrame kap soos sy die ding deur die gang sleep. Ek hou nou maar die kombers oor my kop getrek. Dis beter as om haar in my boxers te gaan konfronteer. …maar dit pla my minder in vergelyking met daardie jong paartjie wat langs my in Taiwan gebly het en videospeletjies gespeel het elke aand tot in die vroeë oggendure!

Die ander ding is dat hierdie ander onnies wat saam met bly almal 27 jaar oud is.  Ek is in my vroeë 30’s.  Ek WIL NIE meer hê iemand moet my 22:45 kom wakker klop (ja wakker, m.a.w. ek slaap toe al)  en vra of ek iets wil gaan drink nie!

Meeste van die tyd as hulle na my toe kom met hulle “still in your insecure twenties” voorstelle is my reaksie gewoonlik:

IMG_1515

Oraait oraait, ek gaan nou nie ‘n waslap wees en nooit iets saam met hulle doen nie.  Die insident wat ek nou beskryf het het gebeur toe ek net by die skool aangekom het en nog erg “jet lag” was aangesien ons maar gedurende die training ook min geslaap het.

Ek dink hierdie is solank genoeg info om almal aan die gang te kry.  Dis Sondagaand, dis laat en ek moet in die bed kom.  …maar eers gaan ek gou aandete geniet – dis korrek mense, in die ooste doen ons alles met noodles en stokkies 😉

Image