# 4 Engels Gee In Suid Korea (of enige vreemde land) Is Lekker, Maar Nie Vir Sissies Nie

Ek gaan eerlik wees :: voordat ek Taiwan toe gegaan het, het ek gedink Engels gee is ‘n relatiewe maklike manier om geld te maak.  Dis toe nou nie heeltemal die waarheid nie.  In terme van werklading en die vlak van Engels hang dit af van die maatskappy/instansie waarheen jy geplaas word.  Ek het dit reggekry om in Taiwan by die grootste privaatskoolgroep op die eiland werk te kry asook hier in Korea.  Hoe groter jou skool se opset hoe meer struktuur, lesse, boeke, klasse, kinders en administratiewe verantwoordelikhede het jy.

[‘n Vinnige stukkie ekstra inligting: privaatskole in Suid Korea & Taiwan & Japan is BESIGHEDE.  Hulle is hier om Engels te gee maar hulle is ook hier om geld te maak.  Dis hoekom die kompetisie in Taiwan spesifiek so erg is tussen die skole. ‘n Leerling wat wegloop is nie net ‘n ou sieletjie wie nie gaan Engels praat nie, dis ook ‘n inkomste vir jou besigheid wat verdwyn – en dis dít wat privaatskole die meeste ontstel.  En glo my dis nogal duur om jou kind hierheen te stuur.  Ek weet nog nie hoeveel die ouers betaal om hulle kinders na ons skool te stuur nie, maar in Taiwan was dit nogal baie geld, veral as jy dit omsit na Rand].

Jammer, terug na my oorspronklike gedagte: Sien, vir een of ander rede het nog NIEMAND wat hier in die Ooste was regtig vir enige iemand in SA die waarheid vertel oor wat die werk vereis nie. Tensy daar êrens ‘n ander Afrikaanse blog oor Suid Korea (of enige ander land) is waarvan ek nie weet nie wat dit vertel, want jy sien altyd net die fotos van die mense op uitstappies, by al die Suid Afrikaanse feeste wat gereël word en hoe hulle poseer saam met hulle kinders.  Lekker man, lekker.  Nee, toe nou nie heeltemal nie. Kom ek deel gou met julle ‘n ordentlike dosis werklikheid.

Ek het al van hoeveel mense gehoor wat nie eers drie dae hier of in Taiwan was nie toe maak hulle (wat ons almal hier in die Ooste noem) ‘n Midnight Run.  Hulle pak letterlik hulle lappe en verdwyn oornag soos ‘n sleg oes(persoon).  Oraait, op hierdie punt wil ek graag noem dat daar sommige mense is wie NIE sielkundig of emosioneel hiervoor voorbereid is nie en glo dit of nie, so sarkasties soos daardie vorige sinnetjie klink het ek 100% empatie en simpatie met sulke mense.  Mense, dis regtig nie ‘n grap om alleen in ‘n vreemde land aan te kom, 12 000 km weg van die huis af (as jy tegnies wil raak, soos die kraai vlieg is ek op die oomblik 12 465 km van Pretoria Oos af) en dinge loop sielkundig vir jou skeef nie.  Jy voel vasgedruk en meeste mense doen die heel eerste beste ding wat in hulle koppe inpop – jy deporteer jouself.  Ek verstaan hoekom mense dit doen.

Die Ooste is nie Engeland of Australia of Amerika waar jy ORAL geholpe sal raak in Engels nie.  In die Ooste, veral in Korea, praat BAIE MIN MENSE ENGELS.  Klink vir my dis maar in die afgelope 4 jaar wat Korea begin “Engels vriendelik” raak het deur Engelse borde aan te bring in die busse en moltreine en op die paaie.  Ek sê altyd vir mense (en nie almal gaan saam met my stem nie, maar dis jou reg) dat as jy in Engeland is, is jy nie in ‘n foreign country nie.  As jy by ‘n supermark of restaurant instap en jy kan ALLES in Engels lees en ALMAL kan met jou Engels praat, is jy, as Suid Afrikaner, tegnies nie in ‘n foreign country nie.  Ja, jy is inderdaad weg van jou familie, mense en kultuur, maar ‘n baie groot deel van wat jy gehad het in Suid Afrika in terme van kultuur en taal wag vir jou in Engeland en/of enige ander van die 7 Engelssprekende lande. Hoewel jy weg is van jou land en mense is daar steeds baie elemente wat aan jou bekend is daardie kant.  Hier in die Ooste kan letterlik ‘n handjievol mense met jou kommunikeer, en nie altyd so wonderlik nie.  Die mense by jou skool ja, want hulle kan Engels praat en hulle gee Engels.  Maar Jan Publiek kan jy vergeet.  As jy by ‘n poskantoor of supermark of restaurant instap en ALLES is in Chinees of Koreaans geskryf en NIEMAND kan met jou Engles praat nie, DAN is jy in ‘n foreign country.  Die heel beste, veral aan die begin, is om met soveel moontlik Westerlinge hier bevriend te raak want hulle weet al wat aangaan en hulle help jou baie vinnig om aan te pas.  Ten spyte hiervan het ek in Taiwan gevind dat jy steeds deur al die fases van kultuurskok gaan.  …maar ‘n wit gesig met wie jy Engels/Afrikaans kan praat maak dit regtig net meer draaglik 🙂

So ja, as jy hoor iemand het drie dae in die Ooste gehou en teruggekom (tensy hulle iets gesteel het), be gentle 😉

Om terug te kom by die Engels gee:  ek sal sê die grootste uitdaging bly die kinders.  Hier waar ek is het ek die hele lot, van 8-jariges tot 16-jariges.  Die vêrste ente van die spektrum is altyd die ergste – die jonger kinders maak jou mal en die 15- en 16-jariges is in daai fase waar hulle óf te cool (gebruik mense nog daardie woord?) is om met jou te praat óf hulle is te skaam want hulle is bekommerd oor wat die ander van hulle gaan dink.  Grootword is darem maar simpel!

Die jonger kinders verg KONSTANTE classroom management – moenie dink jy sit op jou stoel by die lessenaar en sê vir hulle “bladsy 7, lees en doen” en daar is 50 minute verby nie.  Jy loop konstant op en af en gaan boeke na, maak seker almal HET hulle boeke (aan die begin van die klas) want dan moet jy masjien toe gaan en kopieë gaan maak (wat net NOG klastyd steel).  Dan wil hierdie een vir jou sy Spongebob pen wys, hierdie een wil met jou armdruk, hierdie een vertel jou hoe baie hare jy op jou arm het en die volgende een lê en slaap. Sy maatjie klap die een wat langs hom sit terwyl díe probeer om jou aandag te trek want hy/sy wil badkamer toe gaan.  Jy is emosioneel uitgeput ná so klas en my keel was Donderdag regtig seer aan die einde van die dag soos wat ek my stem moes verhef om almal se aandag te kry en orde te skep.  Ek weet dit klink na absolute anarchie maar daar IS orde, glo dit of nie.  Ten minste kom ons deur ons werk, maar jy is moeg!!!

En moenie vergeet nie: as jy kindertuin gaan doen gaan jy sit met kindertjies se snotnesies en hulle gaan opgooi (ja ja, nou nie elke dag nie).  Afhangend van jou skool gaan jy dit nie hoef skoon te maak nie, maar daardie grafiese beskrywings gaan jy self op een of ander stadium teëkom en jy gaan ten to one gereeld siek wees want daar gaan gedurig IEMAND met ‘n verkoue of ‘n kiem wees.  Vra my, ek was meeste van die tyd in Taiwan snufferig omdat ek vir 3 ure elke dag met 22 kindertjies in ‘n klaskamer gesit het.  Daar is lugversorging in die klas maar dit help niks – dit hou jou net koel in die somer.  Ek het eenkeer gelees dat as iemand hoes/nies hang daardie kieme vir iets soos 30 min nog in die kamer rond.  Donderdag het daar drie kinders in my een klas ( hulle is seker so 14 jaar oud) lekker gesit en hoes.  En die ander ding waaraan jy moet gewoond raak is dat hierdie mense sit nie hulle hande voor hulle monde as hulle hoes of nies nie (ek het al gesien van hulle keer daai nies so op 99 net vir ingeval iets grillerig uitkom maar daardie goggas is klaar in die lug). Ek het naderhand AGTER in die klas naby die twee oop vensters gaan staan en klasgee net om nie reg voor daardie drie se gehoes te staan nie.  Ek het toe nou hoeka gisteroggend met ‘n bietjie van ‘n seerkeel wakker geword en vanoggend kon ek voel ietsie is aan die broei, maar ek pomp myself nou vol vitamien C en ek het vanoggend begin antibiotika sluk vir die wis en die onwis – weereens, dit pla my nie.  Ek is gewoond daaraan, maar dis lastig en weet net dat dit is wat in ‘n klaskamer aangaan.

Hierdie is wat mens gewoonlik op websites en blogs sien:

vietnam_english_class-620x380 Grattan-Institute-Report-World’s-Education-Center-Is-Now-East-Asia YoungChineseStudents

Die realiteit is:

hagwon-class 9e0f538a213cb772b4d7b71ee2aa69d4 korean-students

Ten miste twee keer ‘n week is daar net een of selfs twee kinders wie jou SO gek maak jy wens jy kan dít met hulle doen::

giphy

En hierdie is EK op ‘n Vrydagaand:

IMG_6682

(al hierdie fotos het ek geGoogle, nie een van hulle is deur my geneem nie – bronne dus onbekend want ek het gespoed deur Google se Images vanoggend)

Die tieners is nou weer ‘n ander storie – hulle praat NIKS! Dis letterlik tandetrek vir 50 minute – stadig en pynlik.  Ek moet sê ek verkies eerder te veel energie wat jy moet afbring as ‘n lam perd wat jy moet slaan in die hoop dat hy gaan opstaan.  Dis moeilik.

So, AS JY NIE VAN KINDERS HOU NIE, MOENIE KOREA óf TAIWAN óf JAPAN óf  ENIGE ANDER LAND TOE GAAN NIE.  SO LEKKER SOOS WAT ALMAL JOU WIL LAAT DINK DIT IS (STORIES DAT JY GELD GAAN SPAAR, SOOS ‘N KONING HIER LEWE EN VIR JOU iPADS EN ALLERHANDE GOEDKOOP ELEKTRONIESE GOODIES KOOP), MOET JY NOGSTEEDS DIE GROOTSTE DEEL VAN DIE WEEK IN ‘N KLASKAMER SPANDEER OM DAARDIE GELD TE VERDIEN!  ….DAARDIE GELD VAL NIE IN JOU SKOOT NIE, JY WERK DAARVOOR. AS JY NIE HOU VAN HAMBURGERS NIE, BLY WEG VAN MCDONALDS AF :: AS JY NIE MET KINDERS KAN/WIL WERK NIE, MOET NêRENS GAAN ENGLES GEE TENSY DIT VIR VOLWASSENES IS NIE.

Verstaan my mooi, hier is al duisende Suid Afrikaners hier deur en jy hoor net van die suksesverhale maar nie van díe wie dit nie gemaak het nie – ek aanvaar daar is net so baie van hulle.  Ek raai niemand af om hierheen te kom nie, maar onthou net jy kom primêr hieheen om te WERK.  En ou matie, moenie dink dis ‘n breeze nie, oraait?  Engels gee is ‘n uitdaging (wat makliker raak soos die tyd aanstap) maar dit bly ‘n uitdaging en die kinders maak jou moeg.  Die vlak van Engels is dalk nie moeilik nie (alhoewel ek my nou in klasse vasgeloop het waar ek op ‘n Samsung tablet klasgee en die Engles is eerstetaal universiteitsvlak). Die meeste is gelukkig suksesverhale en baie mense bly langer as een jaar (ek ly af die gemiddelde SA’er bly so twee jaar hier in Korea)

Dis die ander ding :: as jy hoor iemand gee Engels oorsee – ONS WERK ONS STERTE AF.  Moenie dink ons lê die hele tyd op die strand met ‘n bier nie – alhoewel dit klink my daar IS mense in Thailand wie so skoolhou 😀 ).  Oraait, ek het al gehoor van mense wie se werk baie maklik is, veral hier in Korea – soos ek nou met Suid Afikaners hier praat klink dit my hier is van hulle wie letterlik net in die klas instap, geen opleiding ontvang nie en net ‘n teksboek gegee word.  Sounds nice.  Alhoewel dit eintlik moeiliker is – dis beter en hê ‘n skool wie jou begrawe onder hulle teksboeke, sillabus en materiaal en vir jou sê wat jy moet doen as wat dit is om met jou vinger in jou oor voor die klas te staan en nie te weet wat om te doen nie.

Mense, dis lekker om hier te wees.  Dis ‘n uitdaging, jy leer selfstandig wees en (uiteindelik) hoe om met geld te werk.  Sommige mense kom hierheen (gewoonlik nog die jongeres wie nounet klaar geswot het) om geld te maak en te spandeer en iets saam te vat huistoe, ander (soos ek) is hier om soveel moontlik geld te spaar.  Watookal jou redes, daar is niks mee fout nie – dis nie ‘n probleem as jy hierheen kom NET om jouself te geniet nie, dis goed.  Die belangrikste boodskap van my post is – of jy nou kom om jouself te geniet en of jy nou kom om geld te spaar, JY GAAN MOET WERK VIR DAAI GELD.

Eish nou ja, noudat ek DIT alles uit my sisteem het sal later meer in detail vertel oor die klasse, studente en skoolgee 😉