# 6 Die Selfoon/Simkaart Debakel

Hierdie is gelukkig net een keer se geveg dan is jy reg vir die volgende (hoe lank jy nou oookal hier gaan bly).

In Suid Afrika is ons uit ons sokkies bederf met ons selfoonnetwerke.  Hulle het dinge regtig vir Suid Afrikaners maklik gemaak om ‘n SIMkaart te koop en onmiddellik te begin speel, data ingesluit.  RICA het dinge effens moeiliker gemaak maar jy bring basies een bladsytjie saam na die Vodashop en jy is geholpe.

In Taiwan het dit soos volg gewerk.  Gedurende ons eerste twee weke by die hotel waar ons tuisgegaan het gedurende opleiding het al die wit gesiggies vanoor die water na die selfoonwinkel oorkant die straat gehardloop want daar kon jy net jou paspoort saamneem en onmiddellik ten minste ‘n voorafbetaalde simkaart koop.  As jy ‘n kontrak wou uitneem moes jy ‘n pasoort en ARC (Alien Residency Card) saambring. Ek hol toe een middag gou na die winkel, spring deur al die administratiewe hoepels en kry my simkaart, net om daardie aand by die hotel uit te vind maar die ding het nie internet op nie.  Die 3G op my iPhone was geaktiveer maar die foon wil niks weet nie.  Ek besluit toe nou om dit uit te sorteer as ek die dag by my tak kom.  Lang storie kort (gewoonlik as ek dít sê is dit klaar te laat), ek vind toe uit ek moes gevra het vir ‘n 3G simkaart, nie ‘n gewone een nie.  HOE MOES EK DIT WEET?! Elkgeval, dit beteken toe nou nuwe (3G) simkaart EN nuwe selfoonnommer.  Sien, in SA is die hele boksomdaais onmiddellik beskikbaar: oproepe, smse, data en alle ander denkbare dienste.  In die Ooste het jy 10 verskillende simkaarte, afhangend van wat jou behoeftes is.  Oraait, 2, nie 10 nie.  En ja, soos met alle voorafbetaalde simkaarte (SA ingesluit) was die tariewe baie duur in Taiwan.  Aangesien ek reeds ‘n selfoon gehad het het ek net geweier om ‘n duur kontrak aan te gaan.

Korea:  ek vra toe nou die dag een van die Koreaanse vroutjies wie saam met my werk om asseblief gou saam met my te gaan sodat ons kon gaan hoor of ons vir my ‘n voorafbetaalde simkaart kon kry vir my iPhone 5.  Kom by die winkel (dis ‘n SK Telecom, die Vodacom van Suid Korea) aan en sy verduidelik toe nou aan die man wat my situasie was.  Volgens al die Westerlinge hier is dit ‘n bekende feit dat jy veel makliker ‘n afspraak met die koningin van Engeland kan kry as wat dit is om ‘n voorafbetaalde simkaart te kry. Hulle wil almal aan jou ‘n splinternuwe Samsung foon afsmeer met ‘n selfoonkontrak wat jou tot R890 per maand kan kos.  Dis wat een van die Westerlinge hier betaal – en sy het maar 3 GB data en ‘n paar “gratis” minute en smse.  Ek weier om dit te mors op ‘n kontrak.  En die ander probleem is net, soos in Suid Afrika, hoe goedkoper die kontrak hoe minder kan jou selfoon doen.  Ja, ek kan ‘n goedkoper kontrak uitneem maar dit gaan vir my oor die beginsel dat ek ‘n foon het en dat daar wel voorafbetaalde simkaarte bestaan.

Lang storie kort, (sien, klaar te laat) die man klim toe nou daar op sy foon en bel iemand.  Soos wat hy praat vertaal die vroutjie vir my en daar is toe nou lyk my “moeilikheid” want die koekie aan die ander kant kan nie my foon se IMEI nommer op haar rekenaar opspoor nie :: dis die selfoon se unieke identifikasienommer.  Ek noem toe weer aan my tolk dat ek die foon in Taiwan gekoop het (splinternuut, uit die boks by een van die grootste Apple kettingwinkels in Taiwan, nie by ‘n sleazy agterstraat winkel nie) en dat die foon wel ontsluit (unlock) is m.a.w. enige denkbare simkaart van enige netwerk op aarde sal hy aanvaar.  Nope, no deal.  Hy sit net die foon neer en sê vir ons sy kan nie die nommer opspoor nie.  Wat het DIT nou met die prys van eiers uit te waai?  Verkoop julle iPhone 5 simkaarte? Ja.  Nou maar gee vir my een dan sit ek hom in die foon!! Die probleem is net dat jy p••p teen donderweer want jy kan nie vir die ou vrae vra en met hom argumenteer nie.  Nou stel hy voor ek gaan na ‘n groter stad, OOK na ‘n SK Telecom winkel, miskien kan hulle my help.  As JY dan nou vir my sê sy kan nie my nommer opspoor nie (wat ek steeds dink ‘n s••••t storie is), hoe gaan ‘n groter winkel in die stad my kan help? Hoe dom dink jy is ek!?  Oraait, skuus ek voel beter nadat ek nou daai bietjie info getik het.  Soos ek hierdie sleutelbord klap besef ek ek het nog nie heeltemal die ou se astrantheid verwerk nie.  Elkgeval, hierdie naweek foeter ek Daegu toe om te kyk of DAAR iemand is wat my wil help.

Sien, sulke ou kleeeeeeeeeeeeeein goedjies wat jou teen die muur uitdfryf!!! 😀 …en die ergste gevoel vir my is die magteloosheid dat jy nie met hierdie ou kan praat of kommunikeer agter die toonbank nie.  Jy is doodeenvoudig uitgelewer aan sy uitspraak, maak nie saak hoe ingelig of dom dit vir jou klink nie.

Die heel belangrikste les om hieruit te leer: MOENIE net in ‘n vreemde land aanvaar wat almal vir jou sê nie.  Moenie in ‘n drukgang ingestoot word teen jou sin en net aanvaar dat die enigste uitweg ‘n duur kontrak met ‘n onnodige foon is nie – tensy jy natuurlik ‘n nuwe foon wil hê.  As jy nie tevrede is nie, sê so en maak ‘n plan (wel, uit ordentlikheid om nie verder my kollega te steur nie moes ek self ‘n plan maak, maar dis nie ‘n probleem nie).  Doen navorsing en vind uit.  Ek het byvoorbeeld voordat ek hierdie laaste paragraaf getik het reeds die adres op Google Maps van ‘n winkel in Daegu gekry van die Olleh maatskappy.  Hulle sê hulle sal mens kan help en hulle praat Engels (vingers gekruis).