# 5 Suid Korea is ‘n Duur Landjie

Jy verdien nou wel ‘n baie goeie salaris in Korea, maar die uitdaging hier is om dit in jou bankrekening te hou.

Mense, Suid Korea is ‘n duur land.  Alles hier is duur.  Ek gee nie om wat jou kind vir jou sê op Skype nie, KOREA IS DUUR.  Tot die Amerikaners wie saam met my by die tak werk stem saam met my.  ….en hierdie woorde kom van iemand wat hier in Suid Korea in ‘n plattelandse dorpie woon.  Ek is nie in ‘n stad nie.

Kom ons begin by een van my gunsteling goed om op geld te spandeer :: cappuccino.  Nou kyk, ek is een van daardie mense wie nou nie omgegee het om R22 te betaal vir ‘n ordentlike, groot cappucciono by Starbucks in Taiwan en/of Seattle Coffee Co in Menlyn nie. Dis vir my lekker maar ek sal dit so eenkeer ‘n week doen, want dis duur.

Hier in Korea kos ‘n doodgewone cappuccino in ‘n (minder as ‘n 350 ml koppietjie – ek dink hy is omtrent die grootte van ‘n medium koffie by die Wimpy) jou R30.  Dis korrek & dis die gemiddelde prys.  Die goedkoopste wat ek nog gesien het is ₩2800 – dis R28.  Hierdie is die prys wat jy betaal by ‘n plek soos Paris Baguette (oulike kettinggroepie hier in SK wat allerhande gebakte goodies maak – alles natuurlik duur en ongesond, maar lekker).  Die ander bekende koffieplek in SK om by gesien te word is “Angel-in-us”.  Mense, hier is baie plekke met sulke name, ek vra nie meer vrae nie.  Elkgeval, jy kan vir jou daar PRESIES DIESELFDE CAPPUCCINO koop vir ₩4800 – dis R48 – VIR ‘N CAPPUCCINO van dieselfde grootte. En moenie dink teen daardie prys word dit gemaak met spesiale ingevoerde Sweedse bokmelk, varsgdrukte bone uit Kolombië wat vanoggend met die vliegtuig spesiaal daar aangekom het en gemmersprinkels uit die berge van China nie – dis ‘n plein, kômmen (Wimpy medium grootte) cappuccino.  Oraait, hy proe natuurlik absoluut fantasties, maar EERLIKWAAR niks beter as díe by Seattle Coffee Co in Menlyn nie.  Sien, in SK gaan dit ALLES oor image.  “Angel-in-us” is soos Porsche – jy betaal vir die naam en om daar(in) gesien te word.

Jy kan natuurlik effens goedkoper wegkom by Family Mart met ‘n cappuccino, maar jy gaan steeds hier by R20 se kant draai en glo my dit smaak nie so wonderlik nie.  Ek is nou maar ‘n koffie snob.  Die lewe is te kort om slegte koffie te drink.

(kliek op die fotos as jy hulle wil vergroot)

DSC_0092

Hierdie is die  R30 Paris Baguette cappuccino(tjietjie).  Ek het regtig nie die grootste hande op die planeet nie, dis werklik die koppie wat so klein is.

IMG_8603

Ek het vergeet om hierdie te noem: Sondagaand het ons gou by ‘n plek met die naam van “Uncle Tomato” – weereens, ek vra nie meer vrae nie – gaan pasta eet.  Hierdie was letterlik die goedkoopste bord pasta op die spyskaart.  Die gereg was relatief vullend maar kom ons sê ek kon byvoorbeeld nog ‘n hele steak  geëet het ná hierdie bordjie pasta.  Hy was R85.

IMG_8590

Ek wil eintlik nie hieroor praat nie.  Die eerste Maandag nadat ons by die tak aangekom het was dit die hele week “Lunar New Year” in die Ooste.  Ons ry toe af na ‘n dorp in die suide om aansoek te doen vir ons ARC kaarte (later meer daaroor) en na ‘n lang dag sê ons vir die eienaar van ons skool (ons het saam met hom gery) dat ons SMAG na ‘n koppie koffie.  Mense, ‘n doodgewone McDonalds sou ook gewerk het.  Ek wou net ‘n skoot kaffeïen in my sisteem kry.  Ons stop toe by so ÜBER CHIC teehuis langs die pad op ‘n bult wat uitkyk op ‘n meer.  Regtig baie mooi.  Jy ruik die fancy uit die parkeerarea en ons wou toe nou nie vir ons baas sê hy het by té duur plek gestop nie. Ons bestel toe ‘n gewone koppie koffie.  Die tannietjie bring nie eers melk nie.  Soos julle kan sien in die foto is alles toe nou baie posh, maar díe ou koppie koffietjie, soos julle hom daar op die foto sien, kos my toe R60.  Ek kon voel hoe stoot daai koffie in my keel op toe ek die rekening sien.

IMG_8321

Hierdie was nou die aand.  Oraait, ek WEET die goue reël is dat jy WEGBLY uit kitsplekkies wat jou 11 uur in die aand kan help, soos ‘n Shell Select winkel.  Hierdie was toe nou by Family Mart.  Sneesdoekies, Hot Chocolate (ek weet hierdie is bietjie bederf maar hulle was maar R6 elk), 1 liter melk, aansteker (dis om hakies met so snaakse gom te smelt om aan die kaste vas te sit in die woonstel, dis NIE vir rook nie!) en toe nou daardie twee pastatjies.  Die partytjie kos toe R89.

IMG_8577

Kruideniersware is ook duur.  ‘n 480 gram boks Special K kos so R70 (ek dink dis duurder as in SA), viennas (dan is daar regtig nie meer as 20 in nie) kos amper R80. ‘n 2 Liter melk kos by hierdie een supermark R48 (in Taiwan was dit R60 ‘n jaar gelede).  Ek het ook glad nie botter of margarine daar gesien nie.  Dis dieslfde ou suiwel probleem wat Taiwan ook maar het.  O ja hierdie is die beste :: by dieselfde supermark is daar drie pragtige groot lemoene te koop – teen R70.  Ek weet nie of dit ingevoer is van Hawaii nie, maar ek het dit met my eie oë gesien en nodeloos om te sê glad nie gekoop nie.

Ek het gister gou gaan inkopies doen vir die week ::

1) die boks Special K

2) 2 liter melk

3) 1 liter lemoensap

4) 2 houertjies kitspasta,

5) ‘n kilogram sout

6) houertjie met 10 piesangs

7) ‘n houertjie met 6 klein yoghurtjies

8) blikikie sardientjies

Die totaal was R270. Ek dink in SA sou ek ten minste onder R200 gedraai het.  Die probleem wat ek het – in Taiwan was dit ‘n feit dat dit goedkoper was om jou kruideniersware te koop en vir jouself kos te maak.  Nie noodwendig hier in Suid Korea nie.  Ek wil nog gaan kyk hoeveel hoendereiers ook kos, sal laat weet.  Sien, ek is nie groot op kosmaak nie, so vir my is dit makliker om kos te koop wat reeds voorberei is.  In Taiwan se Family Mart en 7-Eleven’s was die rakke vol daarvan en ongelukkig is dit nie die geval in Suid Korea nie – hierdie Family Mart om die draai het elke keer net een kitskos dingetjie op die rak en soos ek hom gekyk het nou die dag gaan hy jou vanaand rondjaag want ek het nie ‘n idee wat daar binne aangaan nie!

So ja, om nou nie veel verder onnodig te brabbel oor die saak nie :: die lewe hier is duur.  Ek praat nou van goodies wat jy moet koop vir elke dag se oorleef, nie lekkernye en bederf nie.  As jy net ‘n jaar hier gaan bly gaan jy regtig moet moeite doen om geld te spaar.  Die enigste werklike manier om in Suid Korea GOED geld te maak en te spaar is as jy langer as twee jaar hier bly.